Contact me

Name

Email *

Message *

Sunday, November 26, 2017

25 MANIERE OM JOU KINDERS BESIG TE HOU DIE VAKANSIE

25 MANIERE OM JOU KINDERS BESIG TE HOU DIE VAKANSIE

Die vakansie het aangebreek! Hoe gaan jy jou kinders besig hou? Hier is goeie idees vir jou en jou kinders!!!!


  1. VERF GESKENKPAPIER MET VINGERS.  Gebruik klein bruin sakkies en verf mooi prentjies daarop.   Indien jy nie bruin sakkies het nie, kan jy 'n A4 in die helfte vou en dit vasplak aan 2 kante.  Verf dan prentjies hierop en sit klein geskenkies in.
  2.  MAAK NUWE SPEELPLEK. Dit kan enige plek wees!  Komberse met wasgoed pennetjies vasgesteek op die wasgoeddraad of gooi komberse oor die eetkamer- of stoeptafel.  Jy stel dit voor - hulle bou dit.  Voorsien net vir hulle alles wat hul nodig het.  Kleintjies moet gehelp word.  Sit kombers en kussings ook in die nuwe "huis".
  3.  AKTIWITEITSBOEKIE.  Druk vir hulle aktiwiteitsboekies van die internet af en laat hulle deur dit werk.  Gaan kyk hier vir aktiwiteitsboekies wat jy kan uitdruk:  http://www.colorcutandcreate.com/printables/games_activitybook_001.pdf
  4. SKATTEJAG.  Maak aanvanklik vir hulle 'n pakkie op met skyfies (chips), paaseiers en ander pakkies lekkergoed.  Gaan versteek elke item in elke pakkie individueel oral in die tuin.  Gee vir hulle 'n houer. Hulle moet dan die "skatte"  gaan soek.  Niemand mag eet totdat almal se "skatte" nie gevind is nie.
  5. KARTON KASTEEL     Kry groot bokse by die kafee en maak die kasteel soos in die prentjie.  Hulle moet dan self beplan waar deure en vensters is en alles self teken. 
    Hulle kan dit verf of net so los.  Help veral die kleintjies met die uitknip van deure, ensovoorts, maar... los hul eers 'n rukkie om dit op hul eie te probeer doen!!
  6. SYPAADJIE KUNS.  Hul kan met bordkryt op die sypaadjie of 'n lekker gladde stuk sement teken - moontlik die motorhuis se vloer??😓😓
  7. PIEKNIEK IN AGTERPLAAS.  Laat hulle help met kosmaak soos hamburgers of worsbroodjies en gaan eet dit op 'n kombers agter in die erf!!  Lekkers en koeldrank is natuurlik noodsaaklik! 
  8. SKOENBOKS BEPLAK MET PRENTE.  Kry 'n skoenboks of kleinerige boksie by die kafee.  Kinders knip dan prente uit tydskrifte en koerante en plak die boks toe met dit.  Hul kan ook hul naam uitknip en opplak.  Hul kan dan allerhande "aandenkings" of klippies, fliekkaartjies, koerant- of tydskrif uitknipsels, ens. wat hul deur die vakansie bymekaar maak  hierin bêre.  Aan die einde van die vakansie kan hul weer alles uithaal en die vakansie onthou!!!
  9. SPOEG EN PLAK. Kies 'n tema soos bv. Dinge waarvan ek hou.  Hul blaai deur tydskrifte en soek prente oor wat hul die meeste van hou soos bv. sjokolade, mooi rokkies, karretjies, ens.  Ouer kinders kan ook woorde uitknip van dinge waarvan hul hou.  Hul knip dan hierdie prentjies en woorde mooi uit.  Skryf  bo aan die bladsy:  Dinge waarvan ek hou.   Nou plak hul die prentjies en woorde op een of twee bladsye. Hul kan dit in hul boks sit wat hul toegeplak het met prentjies of jy kan alles in 'n flip file sit!
  10. KLEURKRYT KRAP. Laat hulle 'n papier bo oor enige growwe tekstuur sit bv. klip, growwe muur en plaveisel.  Dan krap hul liggies oor die papier sodat die tekstuur van die klip op die blad verskyn.  Hul kan proefnemings met verskillende ander goed ook doen!
  11. VERF MET STROOITJIE.  Heerlike een ook vir die mammas!!!!  Kinders kan self prentjie teken of jy kan 'n prentjie uitdruk vir hulle.  Hulle sit dan 'n bietjie verf - loperig aangemaak - op die hare van 'n dogtertjie of seuntjie prentjie.  Nou neem hul 'n strooitjie en blaas die verf na verskillende kante toe!  As hul tevrede is met die hare, sit hul weer bietjie verf op die klere en blaas met die strooitjie!
  12. GOEIE FLIEK EN SPRINGMIELIES.  As jul DSTV het kan jul 'n goeie fliek saamkyk.  Of julle kan 'n DVD of twee uitneem.   Spring voor die tyd springmielies, dra die matras sitkamer toe en lê almal saam en fliek kyk.  Vir 'n bietjie bederf kan Astros of Smarties ook in die pakket ingesluit wees!
  13. KWEKERY BESOEK.  Dit is gratis om 'n kwekery te besoek en dus lig op ma se sak.  Sommige kwekerye het speelparkies waar die kinders kan baljaar.  Ander het weer diere waarna die kinders kan gaan kyk.  As jul kwekery nie een van bogenoemde het nie, stap 'n bietjie rond.  Julle kan ook 'n speletjie maak van dit.  Byvoorbeeld: ek sien iets wat geel is.  Die kinders moet dan soontoe hardloop en vir jou die geel blomme wys. Kies aan die einde van jul tyd daar 'n houertjie met blomme om te koop (gewoonlik 6 in 'n bakkie).  By die huis kan elke kind dit in 'n bakkie plant en vir dit sorg. (Goeie raad:  Vetplantjies kort die minste water!)
  14. KLEI. Klei bly altyd gewild!!  Koop klei by die winkels of maak sommer hierdie kleimengsel by die huis aan:  2 koppies koekmeel, 1 koppie sout, 1 koppie water, 1 eetlepel olie en kleursel - as jy wil. (Goeie raad!!!  Gee vir elke kind 'n skinkbord of koekiepan waarin hulle met die klei kan speel. Alles bly sommer skoon en hul mors net op een plek!!)
  15. BOU 'N OEFENBAAN.    Pak 'n emmer of twee op die gras - 'n entjie uit mekaar.  Hulle moet dan om die emmers hardloop, oor 'n plank loop, onderdeur 'n tuinstoel kruip en swaai aan 'n tou aan die boom!  As jy nie alles op die lysie het nie, dink uit die boks.  'n Groot stomp in die tuin kan dalk die eindpunt wees. Jy kan later dalk hul tyd monitor en kyk of hul kan verbeter op hul tyd!
  16. TEKEN OP BLANKO GELAMINEERDE A4 PAPIER.  Lamineer 'n  wit A4 papier.  (Sien voorbeeld van gelamineer A4 onder by Krabbel .)  Jy kan dalk eers 'n raampie omsit of elke kind se naam op papier tik.  Koop "whiteboard marker" met dun punt en gee vir elke kind.  Hul kan lekker teken op die bladsy en dit dan afvee met toiletpapier.  Dan kan hulle weer iets teken of sommer net krabbel en weer afvee.  Hierdie is ook 'n uitstekende aktiwiteit wat hulle kan doen as julle in die motor op pad is met vakansie.  Onthou net om koekiepanne saam te vat sodat hul iets stewigs het om op te druk!!  Werk soos 'n bom!!!
  17. BIBLIOTEEK TOE.   Meeste biblioteke het programme wat hul aanbied tydens die vakansie.  Ons Biblioteek bied net op Woensdae aktiwiteite aan.  So... beplan 'n lekker uitstappie vir die volgende paar weke na die biblioteek.  Julle kom dan almal uit die huis en hulle het weer kontak met ander kinders.
  18. AARTAPPEL VERF.  Sny allerhande vorms uit 'n aartappel soos bv sirkel, ens.  Druk in verf en druk dan op papier!!  Hul kan ook geskenkpakkies hiermee versier of geskenkkaartjies met dit maak!
  19. BALLON IN LUG HOU.  Doodeenvoudig word 'n ballon opgeblaas.  Hul slaan dit dan liggies met die hand en die ander probeer dit ook met die hand slaan. Die idee is dat die ballon nie grond moet raak nie. As dit te maklik word kan hulle almal op hul rue lê en dan die ballon probeer raakslaan!!
  20. HINDERNIS BAAN VIR REëN DAE!  Gooi 'n paar kussings op die grond.  Hul moet spring van een kussing na 'n ander een.  Dan kruip hul bv op hul knieë na nog 'n kussing wat verder as die ander is.  Gooi komberse oor stoele en kruip onder deur die stoele.  Spring 5 keer op en af, gooi bal in wasgoedmandjie, draai drie keer in die rondte en kruip onderdeur die tafel.  Laat hul jou help beplan aan die hindernis baan!!!  Dink net hoe lekker gaan hulle lag as mamma alles moet doen om vir hulle te demonstreer!!!
  21. MALVALEKKERS (MARSHMALLOWS) EN PRETZEL STOKKIES.  Druk die pretzel stokkies binne in die marshmallows in en bou huisies, mannetjies, karretjies, enige iets wat hul aan kan dink.  
  22. HARDLOOP DEUR DIE SPREIER!  Al het julle 'n swembad, bly dit nog maar steeds lekker om deur die spreier te hardloop.  Intussen maak jy sommer die gras ook nat.  Verskuif kort- kort die spreier sodat 'n ander deel van die gras nat word.
  23. KRABBEL.  Wys hulle hoe om te krabbel, sirkels of letter 8 op wit A4 papier te teken   wat
    Voorbeeld van krabbel gedoen op blanko gelamineerde papier!
    inmekaar vloei.  Laat hul die oggend 'n ruk krabbel.  Die middag kan hulle dan verskillende kleure verf of kleurkryt gebruik om elke krabbel 'n ander kleur te gee.  Nog lekkerder:  verf dit met die vingers!!
  24. DANS EN VRIES.  Sit musiek op.  Hulle moet dans asof hulle een of ander dier is.  Hoe wilder die musiek hoe lekkerder kan hul diere namaak!!  Stop dan skielik die musiek.  Elkeen moet vasvries soos wat hulle op daardie oomblik gestop het!  Niemand mag lag of val nie.  As hul dit doen, sit 'n ander liedjie op en doen dit weer!
  25. VERF MET OORPLUISIES.  Neem oorpluisies en druk dit in verf.  Nou kan hul kolletjies druk op buitelyne van prentjie of 'n spiraal maak.  Kleiner kinders kan bv. 'n getal nadruk met die oorpluisies.  Hul kan verskillende pluisies gebruik vir verskillende kleure.
Baie sterkte met die vakansie! Laat weet my asseblief wat jy dink van die idees of stuur vir my jou beste wenke van hoe jy jou kinders besig hou in die vakansie. Geniet elke oomblik saammet hulle.  Voor jy weet is hulle uit die huis en sal jy hierdie vakansie pret so baie mis!!! 

Vul asseblief jou e-pos adres heel onder op blog in by "Follow by e-mail."  Ek is besig met 'n samestelling van byna 128 vakansie idees vir kinders.  Ek sal dit GRATIS vir jou stuur!  Jy kan enige tyd uitteken!



2 comments:

  1. Baie dankie. Ek het die idees geniet wat jy hier geplaas het om kleuters besig te hou.

    ReplyDelete