Contact me

Name

Email *

Message *

Sunday, December 3, 2017

33 PRET IDEES OM JOU KINDERS BESIG TE HOU MET VERF EN KARTON HIERDIE VAKANSIE

Vakansietye is altyd moeilik, want die kinders mis hulle maatjies en raak gou verveeld.  Hier is vir jou die eerste 33 idees om jou kinders besig te hou met verf en karton hierdie vakansie.  Dit kan net vet pret wees vir die ouers en die kind!! 


Ek het dit in kategorieë opgedeel sodat jy vinnig iets uit 'n kategorie kan kies indien jy die dag se program wil verander!  Hierdie aflewering handel oor verf en karton. Geniet die avontuur!!

VERF

(GOEIE RAAD:  Sny gate in swartsakke vir kop en arms en trek dit aan as hul verf!  Koop ook TEDDY se "Finger paint" om mee te verf.  Waterverf werk nie op alles nie!)

Geskenksakkies!
1. GESKENKSAKKIES.  As jy bruin papiersakkies het, sal dit wonderlik wees.  Alternatiewelik kan ‘n wit A4 papier in 2 gevou word.  Gom dan 2 van die kante toe sodat net een kant oopbly.  Hul kan nou prentjies op dit verf met die vingers, of selfs hul hand afdrukke op elke geskenk sakkie sit.  Hierdie geskenk sakkies kan in die toekoms gebruik word vir pappa en mamma se geskenke!  'n Ander alternatief, wat my skoondogter voorgestel het, is dat jy 'n rolletjie bruinpapier vir elke kind koop.  Hulle verf dan die hele rol op hulle manier en het geskenkpapier om hul geskenkies in toe te draai!!! 


2.  PERSOONLIKE BOKS.  Kry ‘n skoenboks of selfs ‘n tamatie kassie by die kafee.  Jou kind knip prente uit of verf die boks of kan selfs ‘n kombinasie van die twee maak.  Onthou net om elkeen se naam ook op die kassie/boks te sit! Alle aandenkings soos klippies, fliekkaartjies of saad wat hulle in die veld opgetel het word hierin gebêre.  Alle A4 papiere waarop geverf of geteken is, kan ook hierin gebêre word.  Op die voorlaaste dag van die vakansie kan hulle dan alles uit hul bokse haal en weer elke oomblik herleef!!
Persoonlike boks

3.  MET WATER.  Gee vir elkeen 'n emmer water en 'n groot verfkwas.  Laat hulle sommer op sement of plaveistene verf en sien hoe vinnig verdamp die water!

4.  VINGER VERF.  Druk prentjies van die internet af of laat hulle self prentjies teken.  Hulle gebruik dan hulle vingers om die prentjie mee te verf.





5.  BLAAR.  Verf die hele blaar met een of verskillende kleure en druk die blaar op papier.  Verf weer en herhaal.  Hierdie tegniek kan ook gebruik word met die maak van geskenk sakkies.

Blaar verf!

Aartappel verf
6. AARTAPPEL.  Halveer of sny 'n aartappel in kwarte.  Sny vorms uit die aartappel byvoorbeeld sirkels of blomme, druk in die verf en druk op die bladsy.

7.  VORMS.   Knip enige prent uit 'n tydskrif, koerant of wit papier soos byvoorbeeld 'n
hartjie of selfs 'n kruisie. Sit die uitgeknipte prent op 'n A4 bladsy.  Verf bo-oor die prentjie.  Hul kan selfs hul hande in verf druk en dit bo-oor die prentjie druk.  Haal die vorm af en hul het 'n splinternuwe kunswerk!

Verf op klippies!

8.  KLIPPE.  Verf prentjies op klippies.  Jy kan eers die helfte van die klip wit verf en dan 'n prentjie bo-op verf.  Hul kan oulike gesiggies op elke klippie verf  wat elke lid van die familie uitbeeld, en dit as geskenk aan ouma of oupa gee!




9.  OORPLUISIES.  Neem oorpluisies en druk dit in verf.  Nou kan hulle kolletjies druk op die buitelyne van prente of 'n spiraal maak.  Kleiner kinders kan byvoorbeeld getalle of letters nadruk met die oorpluisies terwyl hulle herhaal een... een... of  a... a..... Hulle kan verskillende oorpluisies gebruik vir verskillende kleure verf.


Oorpluisie verf



Dennenaald kwas!


10.  TAKKE VAN BOME.  Konifers of dennetakke is die beste, maar die opsies is onbeperk!  Druk die tak se boonste deel, waar die groei plaasvind, in die verf.  Druk, druk dan op die bladsy vir 'n interessante effek.





11. SPIN KUNS.  Sit  verskillende kleure loperige verf in 'n papierbord.  Draai die bord vinnig in die rondte!!  Kyk net die oulike kuns wat gevorm word!

12.  NATUUR.  Verf met enigeiets wat hul in die natuur kan kry.  Kollekteer enige ding buite op die erf en probeer dan daarmee verf.  Hul kan ook blommetjies in die verf druk en dit op papier druk.

13. TANDEBORSEL SPAT EN VERF.  Neem ou tandeborsels en druk haartjies in verf. 
Tandeborsel spat en verf!
Hou die tandeborsel met haartjies nader aan bladsy en trek duim van bokant na onderkant van haartjies om die verf op die papier te spat!  Verfwerk kan ook met 'n tandeborsel gedoen word!

Verf met 'n vurk!
14. VURK KUNS. Druk ou vurke, of plastiekvurke,  in verf en druk dit op papier.  Jy kan ook 'n panda beer se gesig met die vurk druk tot dit gevorm is.  Wat van 'n raampie maak om 'n A4 papier met vurke?












Naam verf!
15.  NAME.  Knip hulle name uit koerantpapier of A4 papier.  Hul kan ook met kleefband (sellotape) die name op papier plak. Sit  geknipte name op 'n skoon A4 papier en verf bo-oor dit.  Gebruik verskillende kleure verf langs mekaar of skuins gedraai.  Hul kan ook hul hande in verf druk en bo-oor die name druk.  Haal die name of en siedaar... hul name in kleur geskryf!!!  Blinkertjies kan ook gebruik word.  As dit werklik mooi is, lamineer dit en plak op hul spieël of deur!!

Toiletrol kuns!
16.  TOILETROLLE.  Druk toiletrol se onderpunt in verf en druk sirkels oral op papier.  Knip baie knippe met skêr vertikaal in toiletrol se onderkant in.   Druk in verf en druk op papier of probeer verf met dit!!

17.  BLARE OF BLOMME .  Sit blare of blomme op A4 papier neer en verf bo-oor dit.  Haal dit af en jy het 'n nuwe prent.  Sit die blaar weer op ander plek neer en verf met 'n ander kleur bo oor!  

18.  PASTA.   Verf makaroni, of ander pasta stukkies wat gaatjies in het, met verskillende kleure verf.  Ryg aan 'n tou en maak vir mamma of ouma 'n mooi halsnoer!

Strooitjie blaas - lekker!






19.  STROOITJIE.  Kinders kan self 'n prentjie teken of jy kan 'n prentjie uitdruk vir hulle.  Hulle sit dan 'n bietjie loperige verf op byvoorbeeld die hare van 'n dogtertjie of seuntjie.  Nou neem hulle 'n koeldrank strooitjie en blaas die verf na verskillende kante toe!  As hul tevrede is met die hare, sit hul weer verf op die gesiggie en blaas met die strooitjie.  So word die hele prentjie - of dalk net gedeeltes - geverf.













20.  SENSORIESE SAKKIES.  Neem 'n Ziplock sakkie.  Sit een kleur verf in een hoek en een kleur verf in 'n ander hoek.  Spuit goedkoop skeerroom in die sak.  Maak toe en plak op alle kante vas met Duct Tape.  Jy kan ook ogies in die sakkie sit!  Die kinders meng dan die verf en speel met die verf binne in die sakkie!! 

 'n Ander variasie op die tema, wat eintlik mooier is, is dat jy ook Ziplock sakkies gebruik.  Voeg goedkoop haar jel in die sakkie en gooi kraletjies of iets dergliks binne in!  Plak toe met Duct tape!  Jy kan ook hierdie sakkies op 'n tafeltjie vasplak met Duct tape of teen 'n skuifdeur vir 'n ander effek!



21.  GEEN MORS VERF.  Neem 'n groterige plastiek sakkie en sit wit papier binne in.  Druk hompies verskillende kleure verf bo-op die wit papier - op verskillende plekke.  Plak al vier kante met Duct tape op die tafel vas waar hulle sit.  Hulle kan nou verf en teken soos wat hulle wil.  Laat dit droog word en siedaar - 'n kunswerk sonder gemors!!!!


Karton kasteel!

KARTON

(GOEIE RAAD:  Koop eerder Craft verf of akriel om karton mee te verf!  Dit kan ook verdun word met water!  Hul moet sover moontlik self alles bou.  Ouers moet net help as kinders klein is of dit werklik moeilik is om te maak.  Die idee is om HULLE besig te hou!)


22.  BOU KASTEEL.   Kry 'n groterige boks of 'n paar kleiner bokse.  Hul teken  en verf self die deure en vensters.  Ma of pa kan dalk net help met die uitknip of uitsny van deure.  


23.  MAAK DIERTJIES EN MEUBELS.  Sny diertjie vorms uit karton en druk ander karton onder in om diertjies regop te laat staan.  Bou ook 'n bedjie vir poppies en meubels van karton.





24.  POPHUIS.  Kry 'n paar tamatie kassies - die soort wat opmekaar pas.  Begin heel onder.  Maak die een langste sy heeltemal oop.  Jy kan dit dadelik verf of net eers 'n bietjie wag en almal saam verf.  Hierdie onderste een is dan die motorhuis waar al die motortjies parkeer word.  Sny nou die langste sy van die volgende tamatie kassie af.  Jy kan die afgesnyde stukke in die middel inpas om twee aparte vertrekke te maak.  Of... jy kan dit net een groot vertrek maak.  As jy hier wil ophou kan jy, anders kan jy nog tamatie kassies bo op stapel tot jou kind genoeg plek het om te speel met die poppies.  Knip nou klein prentjies uit soos 'n klein vetplantjie wat in advertensie blaaie op 'n koffietafeltjie staan.  Dit kan dan met pen omraam word of net so op die muur geplak word as skildery!!  Verf alles mooi en plak selfs klein blommetjies rondom die huis.  'n Paadjie na 'n "swembad" kan ook gemaak word van die oortollige karton.  Verf foelie met blou verf en plak op karton as die "swembad".  Indien die tamatie kassies te klein is, kan groter bokse op mekaar geplak word!!





25. GROOT POPHUIS.  Dit is bietjie moeiliker om grooot wasmasjien of yskas bokse in die hande te kry.  Maar... as jy dit in die hande kan kry, sny 'n deur, wat kan oopmaak, daaruit en ook vensters.  Die kind kan dit dan verf of net so los.  Kyk net hoe geniet sussie en haar poppie hierdie pophuis!!!!
26.  PAAIE. Vat 'n laaang plat langwerpige boks (appelboks of dalk 'n klomp bierboksies aanmekaar geplak).  Laat hulle eers met potlood vir hulle paadjies teken. 
Daar moet winkels ook wees waar hulle kan stop.  Sny  een kwart van een of twee toiletrolle af, vou die toiletrol effens op die punt en plak dit vas bo-oor een van die paaie.  Nou ry hulle onderdeur 'n brug.  As jy die toiletrol platter trek en vasplak word dit weer 'n brug waaroor hulle ry.  Vir meer pret kan karton wynbottels in die helfte gesny en opgeplak word. Hulle ry dan met hulle karretjies deur tonnels in die pad.  Verf alles mooi groen of bou winkels met kleiner karton boksies (Spesery boksies) wat soos winkels geverf word!




27.  PLAAS. Vat 'n laaang plat langwerpige boks (appelboks of dalk 'n klomp bierboksies aanmekaar geplak).   Teken eers met potlood die plaas met die paaie, lande, plek waar die huis is, 'n skuur, kamp vir beeste of skape of wilde diere.   Verf dan alles mooi!  Hul kan die skuur of huisie met kleiner karton houertjies bou en verf.  Kampies kan met roomys stokkies gebou word.  Of.... maak dit meer kreatief en laat hulle stokkies buite gaan soek.  Die stokkies moet omtrent dieselfde groote gesny kan word.  Hul kan dan kampies hiermee bou.  Hul kan ook bietjie klei vasdruk en iets soos 'n konifers se voorste stukkie tak daarin vassit vir boompies!!  Dink uit die boks! 😊😊




28.  STASIE EN TREINSPORE.  Vat 'n laaang plat langwerpige boks (appelboks of dalk 'n klomp bierboksies aanmekaar geplak).   Teken nou treinspore oor die hele boks, eers met potlood en dan met 'n swart pen.  Plak 'n ander karton boksie vas vir die stasie gebou.  Maak ook tonnels met karton wynbottels as jy kan kry of sommer vierkantige bokse wat twee gate weerskante in het en bo oor die treinspore vasgeplak word.  Verf nou die veld mooi groen en sit plase of huise langs die pad.    Sit 'n groot klip in vir berge of die effek van berge!!

29.  BOUPERSEEL.  Vat 'n dieperige langwerpige boks, soos 'n Simba skyfie boks.  Los twee kante net so hoog soos wat hulle is.  Sny een kant van die boks omtrent 15 cm van die grond horisontaal af.  Sny die ander twee kante van die boks skuins op vanaf die 15 cm na die boonste ander hoek van die boks.  Kyk maar mooi na die prentjie as jy my nie verstaan nie!!  Hul gooi riviersand of speelsand in.  In die hoeke en in die middel kan hulle 'n klomp gruis of ander klippies neersit.  Die stootskraper en trokkies volg.  Hul moet nou die gruis of klippies verskuif sodat hul kan bou.  Plak teen een van die hoogste kante van die boks 'n prentjie van 'n gebou wat nog in aanbou is.  Ure se pret!

30.  ROL GOLF.  Vat 'n langwerpige boks.  Sit dit op die oopkant (boonste kant) neer.  Sny vierkantige gate in waardeur balle gegooi kan word.  Verf die boks en verf, of plak Duct tape om elke gat.  Sit die boks met die oop kant op die grond neer.  Sit handdoeke van die kante
van die boks af neer reguit tot waar die kinders is - amper soos 'n paadjie.  Plak met Duct tape 'n streep waar die kinders moet begin.  Die kinders lê of sit op die grond en probeer die balletjies deur die gate gooi.   Gee 4 balle vir elke kind.  Die een wat die meeste balle kan ingooi is die wenner en kan kies wat hulle volgende gaan doen.  Heerlike plan vir reënerige dae!

31.  POPPE MET BEWENGENDE DELE.  Teken 'n hanswors pop op karton en knip uit. 
Jy kan ook hierdie skakel probeer vir alternatiewe poppe: 
 https://za.pinterest.com/pin/7248049374568646/?lp=true.  Knip al die dele apart uit. Sit die kop, arms, bene, ensovoorts  vas met " Round head paper fasteners" 100/no5! 
Dit is die een met die langer beentjies.  As jy dit uitdruk in swart en wit kan hulle nou die poppe mooi inkleur en speel!
32.  ALBASTER BAAN.  Vat 'n langwerpige, plat boks wat 'n kind maklik tussen beide hande kan vashou.  Plak leë toiletrolle oral op verskille plekke en verskillende grade vas.  Die kind moet nou die albaster deur al die toiletrolle laat hardloop.

33.  OPRIT VIR MOTORS.  Vat  'n paar tamatie kassies of bier bokse.  Sny die langste kant van een kassie oop langs die kante.  Moenie die hele deel afsny nie.  Gebruik bv die helfte van hierdie flap om die motortjies te laat afry na 'n ander kassie toe wat voor die kassie gebou is.  Sit nog ander tamatie kassies onder totdat jy 'n afrit vir die karretjies kan bou.   Bou 'n petrol stasie voor die oprit!  Mans is bietjie meer tegnies en sal dalk baie meer kan help hiermee!!!  Beloer maar die prentjie mooi vir die idee!  Dalk verras boetman jou met sy karton vernuf!!!


Daar het jy nou 33 opwindende idees om jou kinders besig te hou.  Probeer baie hard om nie saam te speel nie!!!  😉😉

Stuur asseblief vir ons fotos op ons Facebook blad van al julle pret en manewales!!!  Hier is die Facebook skakel:  https://www.facebook.com/groups/357909584635788/

Kyk hier vir 'n reeds saamgestelde vakansie roetine vir week 1: 
 https://babsgeldenhuys.blogspot.com/2017/12/vakansie-daaglikse-roetine-week-1.htm

Vakansie groete!


   

No comments:

Post a Comment